Tjeers
vir eers

Sestien jaar, sestien jaar, weet Ma hoe lank is sestien jaar? Dis die refrein uit ’n skitterende reis-song van vriend Koos Kombuis. ’n Song vir die lang pad. Vandag kan ek nie help om daaraan te dink nie. In my geval moet ek die 16 net effe afskaal na 10 jaar.

Daar waar ek loop draai het, was daar maar altyd die een of ander goeie storie.

Die ding is so: Tien jaar terug, het ek op ’n reis begin gaan. Die Loopdop-reis op die agterblad van elke CHEERS. Ek het nie geweet hoe lank of hoe ver ek sou reis nie, maar dit kon baie myle wees. Uiteindelik was dit baie myle. Weet Ma hoe ver is 10 jaar?

Die doel van hierdie reis was om soveel as moontlik TOPS-drankwinkels wyd en syd deur Suid-Afrika heen raak te reis. En daar waar ek loop draai het, was daar maar altyd die een of ander goeie storie. En elkeen het so aan die waarheid se gat gevat. Hulle sê mos jy moenie dat die waarheid ’n storie bederf nie, maar dan moet jy hom nou ook nie dood lieg nie. Ek het nie. Nooit nie. Gaan vra dan maar vir Barry Richter of die koshuisseuns sy voordeur toegepak het met gesteelde witbrode ... ’n Egte storie.

My eerste TOPS was Die Boord in Stellenbosch. Seker maar omdat ek in Stellenbosch bly en meer in daai TOPS gaan draai as enige ander een in die land. Daar waar jy bly is tog waar die reis begin. Van daar het ek sommer Noordwes toe geskiet, Lichtenburg toe. As ek dit weer kon doen sou ek dalk die reisbestemmings meer wou orden. Van A tot Z. Dan sou ek in Alice begin het. Daar waar die trokdrywer die army-troep alliepad huis toe gevat het in sy dikke lorrie. So kon ons saam deur die alfabet gereis het. Soos die trekkerreis in Bothaville. My neef Callie wat die witbrood uitgehol het in Carletonville. Darling, Ermelo, Ficksburg en so af in die alfabet verby Gansbaai en Hoedspruit. Lydenburg waar ons sente op die treinspoor gesit het. M, N, O, Postmasburg waar die bevelvoerder van Lohatla my met sy dogter in die inry gevang het. Niks weg gelieg daar nie, reine onskuld en waarheid. Q ... hoekom was ek nooit in Queenstown nie? Maar ek was in Rustenburg waar die Maanlig-inry eens gestaan het. S, T en Umdloti waar ek vir Wilma uit die see gehaal het. Ventersdorp, Welkom en X ... X-rated het ek nooit geskryf nie, maar daar was die vierbeen-volstruise van Yzerfontein.

So reis ek nou amper die laaste dorp in, maar voor ek klaarmaak met die laaste een, sê ek net ’n dikke dankie aan TOPS at SPAR en die Integrated-span. Lekker reisgenote, julle. Shayne, Fiona, Dee, Clare en Jane. Mag julle pad mooi loop.

Ek het hierdie Loopdop begin met ’n song van Koos Kombuis. Dan maak ek klaar met lirieke van ’n ander Koos, Koos Doep:

Daar's ’n ietsie te sê vir
Min rykdom hê
Want ’n rand is soms soos ’n fortuin
As die wiele rol en die tenk is vol
Word die sorge agter jou klein
Die vryheid is soet
Die trap op jou voet
En die enjin word dromerig stil

Want die naald bly dwaal
Net so regs van nul
En jy maak net soos jy wil.


So stoom ek ten laaste by Zastron in wat ons bring by die ABF. Kyk, ’n loopdop is gewoonlik nie die laaste dop nie. Lank nie. Die heel laaste is die ABF: Absoluut blêrrie finaal.

Tjeers Cheers


ADDRESS: TOPS at SPAR, Zastron: Gustavusstraat 16, Zastron, Oranje Vrystaat  

BUSINESS HOURS: Monday - Saturday 7am - 7pm and Sunday7am - 5pm

TOPS at SPAR Tel: 051 673 1346