Snoet tot

stert

Interessant dat China die meeste varkvleis eet maar per kapita is dit Spanje wat hulle klop. Per persoon eet die Spanjaarde blykbaar meer as 55 kg jaarliks!

Varknek in Melk

Daar is verskeie Europese lande wat eienaarskap op dieselfde gesegde aanspraak maak, die een van “ons eet als van die vark, behalwe sy skwiek-klank wat hy maak”. Wel nie die tipe boodskap wat mens aan vegetariërs, vegans en ander kulinêre fynbesnaardes wil stuur nie.

Tog is dit so, die liggaam van ’n vark bied eindelose eetbare moontlikhede ... vleissnitte, ham, spek, wors, sult, pote ... noem maar op.

Suid-Afrikaners eet wel nie so baie vark soos die Europeërs of Chinese nie, maar diegene wat wel hul wend tot die viervoetige spens genaamd vark is lewenslange bekeerdes.

Die nek is een van my gunsteling varksnitte. So ’n dik stuk vleis met genoeg geurgewende vet om vir verskeie smuldoeleindes aan te wend. As jy ’n vark se uitmuntende potensiaal oor die oop kole wil bewys, byvoorbeeld, is skywe nek jou ding. Dis net so geurig soos Karoo-lam, en vir my sagter en meer dimensioneel as die betroubare bees-steak.

Maar wanneer ek ’n stuk varknek opspoor, darem nie te moeilik nie, span ek graag hierdie vleis in om saam te prut in melk.

Vark en melk is een van die beste kombinasies sedert die Valiant en die inrybioskoop. Dit verleen ’n sagte, soeterige geur aan die vleis. Ek het die volgende gereg op die gasstoof gemaak, en selfs die Fransman het goedkeurend geknik toe hy dit op die proef stel.



Vir ses tot agt goeie porsies

1 ontbeende varknek, sowat 1,5 kg – hele stuk, nie in blokke gesny nie

2 eetlepels olyfolie

1 eetlepel meel

3 huisies knoffel, fyngekap

1 ui, fyngekap

2 groot wortels, in blokkies

1½ liter volroom melk

2 lourierblare

Sout en peper


Metode

Jy kan ’n platboompot oor matige kole of jou gasstoof gebruik. Braai die varknek in die olie totdat hy bruin is. Die varknek is gewoonlik deur jou slagter met tou gebind of in ’n tou-omhulsel geplaas om toe te sien dat hy nie uitmekaar val nie. Moet egter nie kommer nie – die tou gaan nie aan die brand slaan nie.

Haal die bruingebraaide varknek uit die pot en sit eenkant. Braai nou die ui, knoffel en wortels in die olie en vet totdat die ui deurskynend is. Gooi die meel by en roer deur die groentemengsel.

Sit die varknek terug en skink nou die melk in die pot, asook die lourierblare en soveel sout en peper as wat beskaaf vir jou koskoninkryk klink. Jou deksel kom dan op die pot, maar jy gaan gereeld moet optjek. Die melk moet net liggies borrel en sorg tog dat die vleis nie vassit aan die bodem nie.

Goed. Ná 30 minute gaan die melk spikkelrige klonte gevorm het, maar moenie bekommerd raak nie. Roer net deur en kook vir nog so 30 minute.

Haal die nek uit. Gooi die melkmengsel deur ’n sif sodat die klonte en groente in die sif agterbly. Druk hard met die vuis (of ’n lepel) om al die vloeistof uit te kry. Verwyder die tou van die nek, sny die murgsagte vleis in skywe en dompel die gesifte melkmengsel oor die vark. Bedien met rys of pasta waaroor daar ook van die melksous gegiet is.

Uit die mond van die suigeling, met of sonder skwiek.