Pa maak vir

my ’n vlieër, Pa

(Met eerbiedige erkenning aan Chris Barnard - die skrywer, nie die hartchirurg nie.)

Elke jaar, vandat ek omtrent kan onthou, het my pa vir my ’n vlieër gemaak wanneer die winde in Augustus begin stoot het op die Hoëveld. Net so voel ek met die afklimslag uit die skoolbus dié vroeë Augustusdag. Dis nou net so vir die wind, maar nie vir die vlieër nie, want my pa is iewers oorsee vir werk. Wat dit ook al presies vir ’n negejarige laaitie beteken.

Tog, met die wind wat so pluk-pluk aan my skoolbaadjie, wéét ek net dit moet. Haastig stroop ek my skoolklere af, los dit op ’n hoop en met net 'n T-hemp en kortbroek aan sluk ek my kos en rammel my huiswerk af en hol af Northcliff Cycles and Toys toe in DF Malanrylaan wat jare later Beyers Naudé geword het. Vir ’n hele 35c koop ek ’n diamantvormige vlieër van bloedrooi plastiek.

“Maar hierdie winkelvlieër is nie soos my pa s’n nie. Hy wil-wil heeltyd net kap. En as hy eers kap dan tol hy.”

Terug by die huis bedel ek gou dun slierte ou lappe by my ma vir ’n stert en voor jy kan sê “Willemwouterwoonwaarwoestewestewindewaai” is daai vlieër in die lug. Maar hierdie winkelvlieër is nie soos my pa s’n nie. Hy wil-wil heeltyd net kap. En as hy eers kap dan tol hy. En wanneer hy tol verloor jy beheer. Om-en-om, daar gaat hy! Die volgende oomblik hang die tou slap in my hand, vorm ’n boog oor die groot wilgerboom, oor die bure se werf. Ek hardloop om en af in Ebonyrylaan. Die tou hang pap oor die telefoondrade. Ek volg hom verby die hoekerf, af in Acaciaweg. So drie huise verder hou die tou op. Ek sien nog so sliert oor die heining, maar niks verder nie. Die vlieër moes in dié huis se agterjaart geploeg het.

Ek gaan klop aan, hoor iemand eindelik nader skuifel. ’n Man met ’n bokbaard en oë diep in hul kaste kyk my vriendelik aan.

“Ja, boetman?”

“Oom, my vlieër het gekap. Hy lê hieragter by Oom.”

“Kom ons loop kyk,” sê die oom en ons stap agterdeur toe deur die kombuis. Ek ruik afval wat opkook. En verlang na my pa.

“Afval ... my pa hou ook baie van afval,” sê ek uit my plek spontaan.

“Dan hou ek ook baie van jou pa.”

Agter in die hoek van die werf is ’n ou knoetserige peerboom. En bo in die peerboom is die rooi vlieër. Goed flenters. Voor ek nog kon beweeg, is die oom op in die boom en af met die vlieër.

“Dis ’n winkelvlieër,” sê hy. “En hy gaan nie weer vlieg nie. Jy moet vir jou pa sê hy moet vir jou ’n regte vlieër maak.”

“Maar hy dóén. Altyd!”

“En die?”

“Hy is oorsee. Hy kom terug oor twee weke. Maar die wind het nou begin waai!”

* * *

Maklik 40 jaar later neem ek foto’s by ’n kunstefees. Dit gaan oor ’n skrywer wat vereer word vir sy lewenslange werk. Een van sy verhoogstukke word opgevoer. Ek moet hom en die spelers ná die tyd afneem. Die stuk se naam is “Pa maak vir my ’n vlieër, Pa” en die skrywer is Chris Barnard.

Kamera in die hand stap ek hom tegemoet. En herken die bokbaard; die oë diep in hul kaste.

“Die rooi winkelvlieër ...” sê ek.

Sy oë trek op skrefies. “Het jou pa toe?”

“Hy het.”

“Dan is dit goed.”

ADDRESS: Tops at Spar Cresta Corner Beyers Naudé and Judges Road, Blackheath, Randburg, 2195.

BUSINESS HOURS: TOPS at SPAR trading hours as per government regulations

TOPS at SPAR Customer Care Tel: 086 031 3141

BACK TO TOP