Die dag toe ek

myself uit die tronk uit gekoop het

Reis en skryf is twee goed wat vir my so hand-aan-hand loop soos koffie en beskuit. “Elke reis het sy storie en elke storie is ’n reis” is juis die motto wat op my eerste bundel reisverhale, Kopreis, se voorblad gedruk staan.

Ek en Johan Bakkes deel twee groot voorliefdes in hierdie lewe. Die reeds genoemde reis en skryf. Ons vat die pad en kom terug met die storie. Soms vat ons die pad saam, soms so in die alleenheid. En wanneer jy genoeg myle afgestamp het en genoeg stories bymekaar het, dan word daar hopelik ’n bundel gepubliseer. Nou, die ding is wanneer jy in Afrikaans publiseer en jy kry ’n drukoplaag van 3 000 en al 3 000 verkoop uit, is jy ’n bestseller! My genoemde bundel, Kopreis was so ’n geval. Ek het my eie persoonlike kopie, die laaste onopgeëiste eksemplaar, aan ’n leser by ’n leeskringvoorlesing verkoop. Sy’t aangedring. Sy was gelukkig, maar ek was effe hartseer, so sonder ’n kopie van my eie persoonlike boek.

Hoe ook al, ek en einste Johan is al weer op reis, dié keer Karoo toe via die Knysnabos. Ons is nie haastig wanneer ons reis nie. Alles moet bekyk en beproef word. Ons was een keer op pad Namib toe uit die Paarl uit en agt ure die reis in, kon ons nog Tafelberg sien. Maar ons het baie plekke en nuwe mense leer ken. Elke plek en elke mens is deel van die reis. En die storie.

So kruie ons stadig af in die hoofstraat, maar die ding is, dinge gebeur nie altyd net in die hoofstraat nie.

Net so ook dié keer stoom ons rustig by Riversdal in. Kyk in die dorp ry jy 55 as die bordjie sê 60. Hul burgemeester is soos daai ene destyds in New York: “Zero tolerance”. So kruie ons stadig af in die hoofstraat, maar die ding is, dinge gebeur nie altyd net in die hoofstraat nie.

“Was jy al ooit by Riversdal se ou tronk?” vra Johan toe.

“Gaan wys my.” En ons draai af. Riversdal is nie ’n metropool nie en kort voor lank parkeer die bakkie voor die ou tronk. Binne-in kan jy nie glo die plek was eens ’n instituut waar mense opgesluit was vir straf nie. Die eertydse galg is selfs nog daar, gerestoureer tot sy vorige glorie. Maar die selle en beheerkamers huisves nou alles van ’n koffiewinkel en roosterkoekpaleis tot kunswerke en snuisterye.

In die een vertrek (sel?) is selfs ’n boekwinkel vol tweedehandse boeke. Synde ons albei skryf, kry dié sel die meeste aandag. So blaai ek deur die boeke en lees: Breyten Breytenbach, Marita van der Vyfer, Chris Barnard, Abraham H. de Vries en vele meer sulke groot name. So blaai ek verder en skielik vries my hand. Wat soek ek hier? Ek trek die boek uit om seker te maak: Kopreis ... “Elke reis het sy storie en elke storie is ’n reis”. My eie persoonlike boek. Sonder ’n merkie, asof hy nou net van die drukpers af kom.

Ek loop terstond na die vrou by die kasregister. Maryke, lees ek haar naambordjie. Voor in die boek is ’n kode. Maryke skryf dit neer in ’n legger. Sy vat my geldjie. Na die transaksie voltooi is, draai ek die boek om. Agterop is ’n kiekie van die uwe. Maryke kyk na die kiekie, kyk dan stip na my.

“Maar meneer!”

“Ja, Maryke, vandag het ek myself uit die tronk uit gekoop.”

ADDRESS: Tops at Spar, 27 Mulder Street, Riversdal

BUSINESS HOURS: Monday - Saturday 8am - 7pm and Sunday 8am - 2pm

TOPS at SPAR Customer Care Tel: 086 031 3141