hou dit

eenvoudig

In Engels het hulle ’n gesegde: Keep It Simple, Stoopid – of die  KISS-beginsel. En dit is inderdaad goeie raad as dit by kos kom.

Ek onthou dit goed, die kos-insident in my kinderjare wat net-net gegrens het aan trauma. Dit was aan huis van my vriend Fabio Lotti, wie se ouers vanuit Italië na Suid-Afrika geëmigreer het, nog voor Fabio gebore is.

Die Italiaanse laaitie en ek was saam in Graad 6, en op ’n dag is ons na afloop van ’n rugby-oefening na sy huis om vir een of ander toets te studeer. Dit was ’n ysige, nat Kaapse middag, en toe ons by die Lotti se huis opdaag sou ek die enjin van oubaas Lotti se ou Alfa Romeo kon opeet, so tamaai was die honger wat die koue en die oefenveld veroorsaak het.

Daar was egter kos, en mevrou Lotti sit ’n groot bak spaghetti op die tafel neer. Net spaghetti. Ek wag nog so vir die tamatie-en-vleissous, of iets dergeliks om die pasta-pype te vergesel, maar Fabio skep sy bak vol en begin smul aan die kaal spaghetti, wat onaptytlik bleek en kaal gelyk het. Kaal spaghetti vir ’n honger kind? Wat het geword van die beroemde gesinshegtheid van die Italianers?

My honger kon dit egter nie hou nie, en toe skep ek uit die bak en kyk hoe die kaal spaghetti op my bord val. En verlang na my ma se uithaler bolognaise-sous.

Maar met die eerste vurk vol, besef ek: hier is iets aan die gang. Hoe kan plein pasta sonder sous so deksels sielsverheffend en heerlik wees? Ferm pasta wat onder jou tande wegval en dan die geur van iets ietwat kaserig is, met ’n peperbyt. . . So leer ek van Cacio e Pepe. En jy maak hom so, vir vier mense.

Bestanddele

500 gram pak gedroogde spaghetti

4 eetlepels botter

2 teelepels gemaalde swartpeper

2 koppies gerasperde  parmesaankaas.
(Meng pecorino en parmesaan, as jy eersgenoemde in die hande kan kry.)

Metode

Kook ’n skottel water en sit die spaghetti daarin.

Op die plaat langsaan, smelt die botter in ’n pan – teen ’n stadige, lae hitte. Voeg die peper by sodat die hitte die volle spektrum van die peper se heerlikheid kan uittrek.

Hou die pasta dop: sowat twee minute voordat die spaghetti gaar is dreineer jy die pasta – máár hou ’n halwe koppie van die water waarin die pasta gekook is eenkant.

Sit nou die twee koppies kaas by met die gesmelte botter, wat steeds op die warm plaat is. Roer die kaas vinnig deur die botter-peper-mengsel en dompel die pasta in die pan, asook die halwe koppie pasta-water. Laat dit so staan en prut vir ’n minuut of twee totdat die spaghetti al dente is. Roer weer vinnig deur, en skep op.

Netso.

En net so eenvoudig en heerlik is die een waar mens olyfolie en knoffel inspan om die pasta te geur.

500 g pak spaghetti

6 eetlepels olyfolie

3 knoffelhuisies, fyngekap

6 eetlepels gekapte pietersielie

2 koppies gerasperde parmesaankaas.


Kook die pasta terwyl jy die olyfolie langsaan verhit en die knoffel daarin braai – nie bruin nie, net deurskynend.

Twee minute voor die pasta gaar is, gooi water af maar hou daardie halwe koppie water.

Sit amper-gekookte spaghetti in die pan waarin die olyfolie en knoffel is, roer deur saam met die pasta-water. Wanneer die pasta sag geprut het – sowat twee minute, besprinkel met pietersielie en kaas, roer deur. En bedien onmiddellik.

Dis die eenvoud wat tel.

Emile Joubert is a PR practitioner by profession, but a food and wine enthusiast by desire. Check out his blog: winegoggle.co.za