’n Vlinder van

verandering

Natuurlike beeldskoonheid het meer as net een vorm, soos ’n jong seun ontdek.

Loopdop deur Gerrit Rautenbach

So hier in my laat laerskooljare het ons nuwe bure gekry. Die Steyns het twee kinders gehad. Jeanette, ’n jaar jonger as ek op wie ek dadelik verlief geraak het en Willem, so jaar of wat ouer as ek. Hy het gou my held geword en ek wou alles doen wat hy gedoen het.

Soos byvoorbeeld om vlinders te vang. Om hulle te spalk en versamelings van hulle te maak. Ek kyk na die geraamde skeppings teen sy mure en is beïndruk. Ek wil ook so maak.

“Ons gaan die naweek plaas toe. As jou ma-hulle sê dis reg, kom saam, dan leer ek jou alles van vlinders vang. Daar is lekker baie daar, veral dié tyd van die jaar,” stel Willem voor.

" Nadat Willem my gewys het hoe om die net te bewerk, het ons in die groot tuin begin swerf, elk op sy eie. Met my derde swiep van die net, vang ek my eerste een." 

My ma-hulle stem in en ek is uit my vel uit bly. Vir twee redes. Willem gaan my leer vlinders vang en Jeanette gaan saam. Die plaas is naby Letsitele in die destydse Noord-Transvaal wat vandag bekend staan as Limpopo-provinsie. Nadat ons ’n laaste paar dinge in die dorp gekoop het, het ons uitgery plaas toe, net betyds om die donkie te stook vir warm water en die ou Lister aan die gang te slinger voor dit heeltemal donker geword het.

Die volgende oggend het Willem my begin touwys maak. Ek het ’n vangnet gekry, ’n inmaakfles met ’n bol watte, pers geweek in brandspiritus, daarin. Die fles moes ek in die koelte van die motorhuis bêre. Ek moet eers ’n vlinder vang voor die fles werk kry. Dan moet Ta uit die net en in die fles in sodat die brandspiritus hom kan uitknikker. Die kuns is om nie sy ragfyn vlerke in dié proses te beskadig nie.

Nadat Willem my gewys het hoe om die net te bewerk, het ons in die groot tuin begin swerf, elk op sy eie. Met my derde swiep van die net, vang ek my eerste een. Sommer die gewone wittetjie, maar vir my baie spesiaal.

“Ek het hom! Ek het hom!” gil ek.

“Jy weet wat om te doen. Fles toe,” antwoord Willem.

So gesê, so gemaak. Versigtig dop ek die net om en druk die deel met die vlinder in die fles en draai die deksel vinnig toe. Terug jagveld toe. Na ’n tydjie het ek net nog ’n klompie wittes gesien en besluit eers om te gaan kyk hoe werk die pers watte met my witte. Op pad motorhuis toe hoor ek musiek. Ek het die fliek gesien en herken “Sleeping Beauty”.

In die motorhuis gaan my hart wild aan’t timmer. Dis Jeanette wat ballet oefen. Skielik is die hele tuin se vlinders in my maag. Sy onderbreek haar pirouette en wys na die fles.

“Ek sien jy het een gevang.”

“Ja.”

“Hy is besig om dood te gaan.”

Ek kyk na my sleeping beauty en draai terstond die fles oop, druk my hand in en hoop die wittetjie het nog genoeg energie oor om op my vinger te klim. Sy pootjies grou swak, maar hy klouter op. Stadig trek ek my hand uit. Die vlinder sit daar met sy wit vlerke wat stadig oop en toe gaan. Dan skielik gaan die revolusies op soos die skoon lug die pers gifgasse verdryf. Ek hoor agter my Jeanette se pienk balletskoene wat verder dans. Dan ruk die witte homself reg en styg op.

Ek het toe nie ’n entomoloog geword nie. Ek wonder of Jeanette ’n ballerina geword het ...

ADDRESS: Tops at Spar,Trichardtsdalweg 1, Letsitele, 0885

BUSINESS HOURS: TOPS at SPAR trading hours as per government regulations

TOPS at SPAR Customer Care Tel: 086 031 3141

BACK TO TOP