se skoene

’n Filmster

Lank, lank gelede ... dis mos hoe ’n mens enige sprokiesverhaal van formaat begin. Nou ja, dié ene was toe ek nog in die reklamebedryf was. Toentertyd ...

Deur Gerrit Rautenbach

Ons het gewerk aan ’n reklameflits (dis nou mooi Afrikaans vir ’n televisie-advertensie) vir ’n groot motorvervaardiger. Die konsepstorie was dat ons ’n klomp jong willewragtags gehad het wat ’n seepkiskarwedren berg-af hou en terwyl hulle hul ding doen, is daar ’n vertellerstem wat die wedren as metafoor gebruik om te verduidelik hoe verskillende handelsmerke verskillende eienskappe het en so aan.

Om dit te maak werk, moes ons die laities letterlik van die straat af gaan haal. Almal so tussen nege en 10 jaar oud. En ons moes ’n pas berg-af kry naby aan waar ons laities was. Sodat hulle die kaskarre daar kan affoeter. Gelukkig het ons regisseur in Krugersdorp grootgeword en ons het ons plek en ons sterre in ’n werkbare klein area opgespoor. Om ’n goeie verteenwoordiging van alle soorte motorvervaardigers te gee, was die spannetjie van alle kante van die Wesrand se spoorlyn af. Meeste van hulle was lekker platjies.

Dit was nogal ’n komplekse ding om te skiet en was geskeduleer oor vier dae. Alle protokolle is gevolg. Dit was in die skoolvakansie en die ouers was geken in die saak. Hulle moes op die stippellyn teken. ’n Kindersielkundige was in beheer van die klomp. Elke kind is R5 000 aangebied. Meer as wat hulle besef het ’n mens kan verdien. Meer as wat party ouers gedink het mens kan verdien. Maar dit was showbiz.

Ons almal het lewenslesse geleer. Op Dag Vier, kort voor die einde (“It’s a wrap!”) sit Ma Bettie en gesels met die jong Boksombende-lede oor die afgelope vier dae se ervaring.

Hoe ook al, aan die einde van Dag Twee, presies halfpad deur die gedoente, kom Janus, een van die voorlopers in die klein film, na Ma Bettie (dis hoe hulle die kindersielkundige gedoop het) en sê vir haar hy is nou goed gatvol vir dié filmbesigheid. Hy trek kop uit. Hy het twee uit vier dae gewerk. Hy sal helfte van sy vergoeding vat. Toe word daar mooi aan hom verduidelik dat hy sy R5 000 na vier dae kry of niks, nul, nada as hy nou loop. Want sonder hom is daar nou ’n gat in die film. Janus het gehoor. Janus het klaargemaak. Janus het ’n lewensles geleer.

Ons almal het lewenslesse geleer. Op Dag Vier, kort voor die einde (“It’s a wrap!”) sit Ma Bettie en gesels met die jong Boksombende-lede oor die afgelope vier dae se ervaring.

“So wat gaan julle met die geld wat julle hiervoor kry, maak?” vra Ma Bettie.

Deur die bank sê almal hulle gee dit vir Ma en Pa óf Ma óf Pa. Hier en daar kom ’n paar gedagtes van wat daarmee gaan gebeur uit, maar dan skielik praat Janus weereens.

“My ma sy, sy is bly ek gaan die geld kry.” Hy bly so rukkie stil. “My ma sy, sy het gesê die eerste ding wat sy met die geld gaan koop is babaformule vir Sussie. Dan ... dan daarna kan ek vir my nuwe skoene gaan loop koop. Ek het nog altyd skoene gehad, maar hulle was al goed gedra deur die boeties voor my. Nuwe skoene, ja.”

“Dis so mooi!” reageer Ma Bettie. “Dit gaan darem lekker wees om na die vakansie met nuwe skoene skool toe te gaan, nè, Janus?”

“Nooit!” antwoord Janus ontsteld. “Daai skoene ... hulle bly in hulle boks.”

ADDRESS: Tops at Spar Bonanza, 26 Fourth Street, Krugersdorp North

BUSINESS HOURS: TOPS at SPAR trading hours as per government regulations

TOPS at SPAR Customer Care Tel: 086 031 3141

BACK TO TOP