En as dit nie sneeu nie?

Klompie jare terug het ek ’n internasionale meisie gehad. Echt waar hoor, sy was ’n Vlaming van Antwerp. Hilde Tillens was avontuurlustig en het geglo mens moet besig bly, dinge doen. Ons het berg geklim, lang paaie gestap, gefiets en met die motorfiets gery. Valskermspring, alles. Op ’n dag reken sy sy gaan my leer snowboard.

Photo by Tony Tegg.

Ek het net my kop geskud terwyl sy voortgaan om die reëlings te tref by Tiffindell-ski-oord daar in die Oos-Kaap naby Lesotho. Lees: groot klomp geld.

“En as dit nie sneeu nie?” wil ek weet.

“Hulle maak sneeu. Met sneeumasjiene,” sit sy my koud.

“Oukei.”

Gewoonlik wou Hilde alles sien en niks mis nie. Elke padstal, elke dorpie word deurgewerk, maar dié keer is ons reguit deur na Tiffindell. Haar sneeulus was erg. Hoe nader ons kom, hoe vinniger begin sy wip op die bakkie se sitplek. Hoe nader ons kom hoe meer wonder ek of ek ooit gaan leer snowboard. Want ek sien die mooi vaalbruin tande van die Suidelike Drakensberge, maar nie ’n titsel wit nie. Net reën plek-plek.

Images via: https://www.tiffindell.co.za/

Daar aangekom lyk die ski-helling soos ’n enorme donker bol sjokolademousse. Hilde wys die sneeumasjiene vir my uit. Nietemin, ons klok in en Hilde vra uit oor die sneeumakers.

“Hoe hoër die humiditeit, hoe kouer moet dit wees om sneeu te maak. Die reën is verby, so dinge behoort vannag te gebeur,” verduidelik die man vir ons Sneeumaak 101. Vir afleiding het Hilde daarna gou 20 kilometer gaan draf.

Daardie nag maak Hilde my wakker en ek hoor ’n donker veraf gedreun. Dit lyk my die humiditeit speel saam. Ek was nogal verbaas Hilde het nie dadelik haar sneeupak aangetrek nie.

Dit was kwaai koud, so koud die sterre het helderder as helder geskyn. Nie ’n wolkie in sig nie.”

Helaas, die volgende oggend is die sjokolademousse nog net so. Die humiditeit en temperatuur kon mekaar nie vind nie en die masjiene het net water gegooi. Ek het haar jammer gekry, maar drie dae later is ons daar weg. Vir ’n troosprys het ons besluit om ’n langer road trip huis toe te vat. ’n Paar uur later met ’n wye draai deur Maclear en kort voor die dorpie Ugie is daar ’n bordjie wat ’n gasteplaas aandui. Hilde se oë kikker op toe sy sien hulle bied perdry aan. Ingeklok en met perdritte bespreek kies ons koers Ugie toe vir proviand. Tipies Hilde het ons die trekkermuseum bygewerk. En sy het uitgevind daar is grotroetes in Prentjiesberg. Maar die naam Prentjiesberg vertel alles van Ugie. Die berge en passe rondom Ugie is prentjiemooi. Sendeling William Murray het dié nedersetting begin en dit na die Ugierivier in sy heimat, Skotland vernoem.

Hilde het forel en Belgiese frittertjies gemaak waarna ek vir ons elkeen ’n glasie sjerrie gegooi het waarmee ons buitentoe is. Dit was kwaai koud, so koud die sterre het helderder as helder geskyn. Nie ’n wolkie in sig nie. Net die berge se tande wat swart uitstaan.

“’n Goeie ding dat dit nie sneeu nie,” reken sy, “anders sou ons nie more kon perdry nie.” Altyd tyd vir positiewe denke, sy.

Die volgende oggend word ek wakker en voel iets is anders. Asof klank so half gedemp is. Sy hou my dop waar ek venster toe loop en die gordyne ooptrek.

Sover die oog kan sien is alles wit.

ADDRESS: Tops at Spar Ugie, 14 Main Street, Ugie 5480.

BUSINESS HOURS: TOPS at SPAR trading hours as per government regulations

TOPS at SPAR Customer Care Tel: 086 031 3141

BACK TO TOP