Die politiekery

van ’n

burger en tjips

Herinneringe van klein wees, van rolprente en burgers – en pa se liefdevolle aksie.

Kleintyd was Barry Hertzog ’n pad. Net dit, ’n pad. Barry Hertzog-rylaan van die stad Johannesburg af na die noordelike voorstede. Later jare het ek in die geskiedenisklas geleer Barry was ’n imposante mens. Generaal en politikus. J.B.M. Hy. Vader van Albert Hertzog wat, in sy beurt die stigter was van die Herstigte Nasionale Party. Dus, van J.B.M. na HNP. Genoeg politiek vir eers.

In die tyd toe Barry Hertzog nog net ’n pad was, het ek, my broer en my ma-hulle soms so op ’n Saterdag in die Colosseum-teater in Johannesburg se Commissioner-straat gaan fliek. Helfte van hulle was seker James Bond-flieke toe 007 nog Sean Connery was (rus in vrede, Skotsman). Na fliektyd het ons via einste Barry Hertzog-rylaan huis toe gery. Huis was nou uit Barry se Hertzog uit oor Melville-koppies tot in D.F. Malan-rylaan. Wat nou Beyers Naude-rylaan is. Sien, dis wat ek nie verstaan van die politiekery nie. Malan swig voor Naude, maar Barry Hertzog, voorvader van die HNP, is nog steeds ’n genoemde pad. Hoe ook al, daar op pad huis toe daai tyd in D.F. Malan was daar Steve’s SPAR, wat nou Blackheath SUPERSPAR is. Met ’n TOPS at SPAR. (Dog ek noem dit net vir duidelikheid.)

Terug na Barry Hertzog toe. So ry ons van die fliek af en daar in Barry se rylaan is ’n plek genaamd DeeBurgers. Die lekkerste slegburgers en skoenvetertjips denkbaar. Gemorskos op steroids. Gewoonlik het my ma kapsie gemaak teen dié tipe kos, maar so na ’n stukkie James Bond was sy oortuigbaar. En daar draai ons af na DeeBurgers toe. Alles het baie gelyk soos ’n burger-ketting wat vandag die land vol is, maar daai tyd verbode was. Ek wonder maar net oor die ooreenkoms. Maar toe het ek nog niks daarvan geweet nie ...

Met die stop daar sien ons daar is ’n winskoop-wedstryd aan die gang. As jy ’n rooi ster op jou strokie kry, kry jy jou hele ete verniet.

“Gerrit,” sê my pa, “jy is gebou vir hierdie soortvan goed. Hier is die presiese geld, gaan bestel. En kry die ster!”

So ry ons van die fliek af en daar in Barry se rylaan is ’n plek genaamd DeeBurgers. Die lekkerste slegburgers en skoenvetertjips denkbaar. Gemorskos op steroids.

Gmf, dink ek en stap venster toe, bestel en wag. Dis nou weer net om die jongste alles te laat doen. Die burgers kom, styf toegevou in waspapier wat in rooi DeeBurgers, DeeBurgers, DeeBurgers gil. Tjippies in sulke kartonkegels. Tjirrr-tjirrr skree die kasregister. Die mooi meisie met die DeeBurgers-kêppie op kyk en lag vir my.

“Jy het die rooi ster gekry! Hier is jou kos en hou jou geld. Jy hoef nie te betaal nie.”

Eish, nou loop ek terug kar toe met ’n eksistensiële krisis. Ek kan die strokie met die rooi ster op opfrommel en net die kos vir hulle gee en my skouers ophaal as iemand uitvra oor die rooi ster.

By die kar aangekom gryp my broer sy dubbel-Dee en tjippies en ek stap na my pa se venster toe. Hy kyk vir my. Ek kyk vir hom. Die eerste ding wat ek vir hom gee is die kwitansiestrokie met die rooi ster op. Die tweede ding is die sweetgevatte geld vir die ete.

Hy vat my hand, frommel die rooi ster op, maar los die geld net daar.

Liefde vir jou Pa.

ADDRESS: TOPS at SPAR Swellendam, 25 Voortrek Street. Tel: 028 450 8181

BUSINESS HOURS: TOPS at SPAR trading hours as per government regulations

TOPS at SPAR Customer Care Tel: 086 031 3141