KOS MET ’N KORS

Britse glanskok Jamie Oliver kry dit reg om kos op die tafel te sit met vyf bestanddele of minder – en dit binne 15 minute. Met net ’n paar goedjies kan jy ook met voedsel toor. Die bier help beslis baie!

Daar is wonderlike dinge wat uit ’n blikkie of bottel bier kom, en nou praat ek nie net van ’n prima geleste dors of ’n ruim-wordende buik nie. Buite die glas of blik, lewer bier se kind interessante goeters. Kyk nou wat tydens die Corona-19-grendeltyd gebeur het: toe daar nie bier gemaak is nie, was daar geen Marmite om op jou brood te smeer nie. Want, sien, Marmite word van die gisselle gemaak wat in die brouery se leë biertenks oorbly. Geen bierbrou, geen leë tenks, geen Marmite.

Wil jy nou meer?

Maar wanneer daar wel bier in die omtes is, is hy ’n lekker kosmaak-vennoot. En as ek bier praat, dan is dit nou niks van die fênsie “craft”-goeters met geure van amandel, organiese bessies en ou leer nie. Bier is Castle, Black Label of Windhoek. Netso. Ek span gereeld ’n blikkie bier in in stede van wyn wanneer ’n vleis- of hoenderpot te droog raak. En ons het al geskryf oor daardie oulike hoender wat jy op die bierblik staan maak, en in die Weber gaar kry.

Bier en brood gaan egter hand-aan-hand. Want mens hoef nie ’n BSc-graad te hê nie om te weet dat beide hierdie twee heerlikhede gis bevat, asook om vir Tim Noakes die ritteltit te gee.

Dus, bak ons brood … met bier. Hulle noem dit, snaaks genoeg, bierbrood.

En ons soek hom geurig:

Gewone bierbrood:

500 g koekmeel
5 ml sout
340 ml bier (1 blikkie)
1 pak bruin uie-sop (ook bekend as die Wonder-pakkie)

    Voorverhit die oond tot 180º C. Spuit ’n broodpan met kleefwerende middel of vee dit met ’n liggies geoliede lap. (Kookolie, asseblief.) Sif die bruismeel en sout saam.
    Voeg die bier by en meng goed sodat die beslag heeltemal klam deeg vorm, sonder enige lastige droë korrels. Skep die beslag in die bereide pan en bak sowat 1 uur lank.
    Laat afkoel en keer die brood uit. (Die kors is myne.)

Spekvleis-bierbrood
250 g spekvleis, fyn gekap
1 groen soetrissie, grof gekap en gesoteer tot sag
1 ui, fyn gekap en gesoteer tot sag

Meng bogenoemde baie goed deur jou beslag. Plaas in pan, en bak soos hierbo. As die spul werklik honger of die babalas hinderlik groot is, haal die brood uit ná ’n uur en sprinkel twee hande gerasperde cheddar-kaas boo or. Sit terug in oond vir nog 10 minute.

Mielie-bierbrood
410 g blikkie heel pitmielies, gedreineer
100 g gerasperde kaas

Roer deur beslag, bak.

Knoffel-bierbrood
9 vars gekneusde knoffelhuisies, fyn gedruk
50 ml pietersielie, fyn gekap

Voeg die bestanddele by die basiese resep en bak soos deur die basiese resep beskryf.

As jy eers die bevrediging ervaar het van om jou eie brood van begin tot einde te maak, kan jy hierdie lys met mening aanvul. Laat waai! Solank daar ’n brood in die oond en skuim op die glas is, is die Kaap Hollands.