’n Krismis is ’n 

poeding

Kerstyd en spesifiek Kersdag is vol rituele en tradisies, maar as jy nog maar net ’n tjokkertjie is, kry jy dit reg om al daai dinge maar effe te buig. Veral as jou pa saamwerk ...

Loopdop deur Gerrit Rautenbach

Dit was min of meer my negende, dalk tiende Kersfees van my lewe. Kort na die skool se Kerskonsert se finale aand (ek dink ek was dié keer een van die wyse manne) se gordyn gesak het, is ons sak en pak af see toe. See dié keer was Glentana, eintlik deel van Groot Brak. Daai tyd het ek nog gedink Groot en Klein Brak het verwys na ’n boerboel en ’n poedel, of so iets.

Hoe ook al, by die Marais’s waar ons vakansie gaan hou het, was daar nie ’n hond in sig nie, groot of klein. Net ’n bobaas strandhuis ’n katspoeg van hoogwater af. Oom Isak was nie net die eienaar van die strandhuis nie, hy was die argitek. En het die huis so ontwerp dat hulle elke vakansie mense kon nooi om te deel in hulle vreugde, sonder om mekaar te vertrap. Soortvan ’n dubbelhuis; ’n amperse spieëlbeeld. Maar per geleentheid het ons almal saam gekuier. Soos natuurlik Kersdag se amptelike middagete.

Die grootmense het in die sitkamer geëet en die kinders op die stoep. Dit was ek en my broer en Martie, Antoinette, Chrisjan en Mariane. So werk ons deur die kalkoen, ham, skaapboud en sewe soorte groentes en slaai. Tannie Jeanette was die argitek van ’n prima-ete.

" Dit was woes, maar daar was plek vir poeding. Uiteraard. Dit was ’n tradisionele gebakte Krismis-poeding en ons is vertel dat daar ’n hand vol vyfsentstukke binne-in die poeding gebak is. "

Dit was woes, maar daar was plek vir poeding. Uiteraard. Dit was ’n tradisionele gebakte Krismis-poeding en ons is vertel dat daar ’n hand vol vyfsentstukke binne-in die poeding gebak is. Wat ons nie besef het nie, is dat dié tradisie al min of meer eeue oud is. Maar hierdie munte was nou! Hier was rykdom op pad. Daar was ook jellie, maar dit het ons geïgnoreer. So kou ons fyn-fyn. Hier en daar klik ’n vyf sent ’n tand. Maar my telkaart bly leeg. Dolleeg.

Lateraan raak dit amper soos goudkoors. Ons hardloop tafel toe met leë bakkies, skep nog poeding in, vergeet heeltemal die konnotasie met Kersfees, krap die poeding in fyn stukkies op soek na munte, gooi die krummels oor die stoepmuur en hardloop in vir nog. My telkaart bly leeg. Almal lag, almal grap, die Kersfeespoeding is ’n wenner. Ek wens net ek kan een vyf sent kry.

“Gerrit, miskien moet jy bietjie jellie ook skep,” stel my pa voor. Ek kyk vir hom asof hy van sy trollie af is. Jellie! Pa, verstaan jy niks nie? Hy knipoog vir my. Skielik verstaan ek.

“Tannie Jeanette, kan ek bietjie jellie kry?” vra ek.

“Rooi of groen?”

“Vat sommer myne, ek is vol,” sê my pa. Ek vat en tannie Jeanette gooi ’n dik skeut vla oor.

Buite op die stoep werk ek deur die blobbe vla totdat net die jellie oorbly. Binne-in die rooi glim daar ’n twintig sent. Ek lek hom af.

My pa, hy, hy verstaan van Krismis.

ADDRESS: Tops at Spar, De Dekke-sentrum R102, Langs Groot Brakrivier-afrit, N2, Groot Brakrivier, 6525

BUSINESS HOURS: TOPS at SPAR trading hours as per government regulations

TOPS at SPAR Customer Care Tel: 086 031 3141

BACK TO TOP