Krismis

Daar’s min dae voor die Kersgety, wanneer mense verlof neem en ontspan. Daar word gebraai en gelag en gevier. Maar 25 Desember bly ’n spesiale dag en die kos moet inpas.

Ek voel nie tuis met enige geregte wat slegs een keer per jaar gemaak moet word nie. Daarom waag ek selde iets ekstravagant of bomenslik vir my Kersmaal. Dit moet iets wees waarmee my beperkte vaardighede gemaklik voel, en dit moet moer lekker wees. Lamsboud het als: hy is ’n rojale stuk vleis wat by geen geleentheid minderwaardig hoef te voel nie. En Suid-Afrika se lam is die beste op aarde.

Lamsboud dus, gebraai oor die kole.

Voorbereiding

Neem die lamsboud en sorg dat alle oortollige, lastige stukkies vet en sening afgesny is. Maar wag ... been ín of ontbeen? Persoonlik glo ek aan die vleiskenners se leitmotief, naamlik dat vleis op die been meer geur het. Daarom hou ek die been in. Maar dis geen konstitusionele probleem nie. As jy van jou boud ontbeen hou, dan is dit jou demokratiese reg. Die vleis moet egter darem een goeie laag vet hê om te sorg dat jou hart se pompe geoefen bly. Ledigheid is immer die duiwel se oorkussing, of hoe?

Nou neem jy die volgende:

½ koppie (125ml) olyfolie

1 koppie (250ml) droë wit wyn

Geskilde knoffelhuisies – hoeveelheid afhangende van hoe groot jou boud is

’n Paar kort takkies roosmaryn

Sout en gemaalde swartpeper

Neem ’n kort, skerp mes. Met die punt van die mes bring jy sulke kepe so diep soos wat jou wysvinger se eerste lid lank is oor die boud aan. Vel- en vleiskante. Nou nie dat die ding soos ’n sif lyk nie, maar darem een keep elke vier, vyf sentimeter. In daardie keep druk jy ’n huisie knoffel. In elke derde een kom daar ’n kort takkie roosmaryn saam met die knoffel.

Plaas die vleis in ’n diep bak en voeg die wyn en olie by, en rond af met sout en peper. Die boud, wat nou soos ’n bleswordende krimpvarkie behoort te lyk, moet oornag in ’n koel plek – soos ’n yskas – gebêre word in sy marinade. Wanneer jy jouself in die omtrek van die vleis bevind, draai die boud om sodat dit maksimum marinade-blootstelling kry.

Die volgende dag is braaidag. Steek die Weber aan en gebruik die hokkies wat saam met die braaiketel kom om twee stelle warm kole aan weerskante van mekaar staan te maak.

Die skaapboud, wat so ’n uur of wat voor die braaislag uit die yskas gehaal is sodat die ding darem nie klipkoud op die hitte kom nie, word dan op die Weber se rooster geplaas. Sien? Daar is geen kole direk onder die vleis nie. So as jy hierdie ding aanbrand, wel, kry kookklasse of vra vir ’n mikrogolf vir volgende Krismis.

Plaas die Weber se deksel op en maak seker dat die luggaatjies bo op die deksel oop is. Dit vorm ’n lekker trek deur die ketel. Sit nou agteroor en amuseer jou gaste met grappe, jagstories of die nootvaste sing van Kersliedere. (Kitaar opsioneel.)

Elke 20 minute kan die Weber oopgemaak word. Bedrup dan die gaarwordende vleis met die wyn- en olie-marinade. En draai die boud om sodat dít wat bo was, nou onder lê.

Nou, wanneer is die ding reg? Dit hang van die grootte van die boud af. Vir ’n homp vleis van so twee kilogram werk 70 tot 90 minute vir my. Dan is hy warm en regdeur gaar, met so ’n effense pienk skynsel. Hou jy van hom rouer of deurgaar, wel, soos die Yanks seg: “Do the math.”

’n Vleistermometer, wat in die boud ingesteek word en dan vir jou die lesing uitspeel van die vlak van gaarheid, werk natuurlik uitstekend.

Wanneer die vleis volgens jou reg is, haal dit van die kole af en laat dit rus vir so 10 minute. Dit gee die sappe wat tydens die braaiproses aan die buitenste van die vleis versamel het, kans om terug te trek en die hele boud heerlik geurig, sappig en sag te maak.

Sê Kersvader moet sy hande tuishou: takbok braai ook lekker.

Poeding

Koekstruif is Afrikaans vir trifle en Kersfees is nie Kersfees daarsonder nie. Hier is ’n eenvoudige en heerlike resep, ook vir 10 mense:

Jy’t nodig: 2 liter vla. Volg die aanwysings op die houer poeiervla om 2 liter vla te maak. (Moenie die vla-in-’n-boks hiervoor koop nie, want dit gaan nie set nie.)

4 jam rolls, gekoop by jou vriendelike kruidenierswinkel

400g pekanneute – kap 300g in kleiner stukke en hou 100g vir versiering

1 bottel sjerrie, mediumsoet

500 ml room, styf geklop

1 groot glasbak

Maak so: Sny die jam rolls in skywe. Maak die vla volgens die aanwysings en sorg dat jy ten minste 2 liter warm vla het. Begin deur een laag gesnyde jam roll onder in jou glasbak te pak. Gooi nou genoeg sjerrie oor sodat die koek lekker klam is. Besprinkel met die gekapte pekanneute en dan ’n laag vla. Herhaal tot al die jam roll, vla en pekanneute op is. Onthou net om elke laag van die jam roll met sjerrie te besprinkel. Wanneer jou bak vol is, smeer die geklopte room bo-op en versier met die heel pekanneute.