die water mors nie

Kinders moenie in

Soos jy nou klaar by die TOPS at SPAR in die Kalahari Mall jou koue moutdrankies gekoop het en die pad vat Askham toe in die diep Kalahari in, sal jy iewers vir Rondeberg kry. Dis nou daar waar Hendrik Steenkamp gebore is.

Deur Gerrit Rautenbach

Plaaskind. Van vroeg af kon hy wyd kyk. So wyd soos die rooi duine se omtes om hom. Hy het seker eers op hoërskool in Upington regtig begin skoene dra. Kleintyd was kaalvoettyd. Soos hy daai warm sand platgetrap het, het sy voete platter, breër en skurwer geword. Dit was naderhand so erg, die duwweltjies het uit sy pad gerol as hy naderstap.

Op ’n dag, toe hy so vier jaar oud was, is hy saam met sy pa by die boonste kamp doenig met die skape. Wel, Hendrik was doenig met sy eie dinge. Van skerpioene soek onder klippe tot ou vervelde slangvelletjies optel. En mooi klippe. Kleinode. Dan hoor hy die geroggel van die stofverstopte waterpyp bokant die droë krip en stap nader.

" Hy weet water kom uit die aarde uit, maar hoe dit daar gekom het, weet hy nie. Want Hendrik het nog nooit reën gesien nie. "

Hy gaan staan platvoet met gekrulde tone op die kripmuur en wag vir die water. Sy pa het die stopkraan van die windpompdam oopgemaak. Die skaap moet drink. Water is alles. Pa kom staan langs hom met sy hand oor Hendrik se skouers.

“Ons is geseën,” sê hy. Hendrik weet waarna hy verwys. Die skaap, die water, alles. Hy weet water kom uit die aarde uit, maar hoe dit daar gekom het, weet hy nie. Want Hendrik het nog nooit reën gesien nie. Daar is water onder die aarde. Dis daar, maar dis min en mag nie mee gemors word nie. Skottelgoedwater word oor die vetplante gegooi.

“Pappa, waar kom die water vandaan?”

“Dit kom van die wolke af, my kind. Van Liewe Jesus af. Uit die lug.” Water is heilig. Kinders moenie in die water mors nie en al daai.

Hendrik kyk op in die eindelose blou in en wonder waar sou dit vandaan kom.

Tog, so drie nagte later, hier kort voor die nag se karos begin ligter raak, word Hendrik wakker met ’n vreemde gegrom in sy ore. Die volgende oomblik lyk dit of iemand al die ligte vinnig aan en af sit, maar dit kan nie. Hendrik weet die Lister is af tot dit weer donker word. Hendrik is benoud hieroor en doen wat hy doen wanneer hy benoud is. Hy hardloop na sy pa en ma toe.

Halfpad na hul kamer sien hy die voordeur staan oop en Ma en Pa staan buite. Staan en kyk op hemel toe. Die wind waai terwyl die wolke raas en die blitse blits. Die volgende oomblik slaan iets kwaai uit die lug voor hulle die pad raak dat die stof spat. En weer en weer en weer ... Dan besef Hendrik dis water wat uit die lug kom. Die reënding waarvan sy pa gepraat het.

Binne oomblikke is die Kalahari se stof ’n plassende moddergemors met strome water wat lukraak wegvloei. Sy pa kom hurk by hom.

“Wat sê jy hiervan, Boetman?”

Hendrik het sy voet in die nat modderstof ingedruk dat dit so tussendeur sy tone krul voor hy antwoord: “Lyk my Liewe Jesus mors nou lekker met die water.”

En Hendrik hardloop plassend vorentoe en gaan mors saam. Want dié een keer mag hy.

ADDRESS: Tops Kalahari Mall, Nelson Mandela Avenue, Upington, 8800

BUSINESS HOURS: TOPS at SPAR trading hours as per government regulations

TOPS at SPAR Customer Care Tel: 086 031 3141

BACK TO TOP