Kos vir die lang pad

Daar moet gery word vir ’n Krismisvakansie: al is dit see toe, berge toe of Karoo-plaas toe. En noudat die vakansie oor en uit is, bly net die terugreis oor. Om dit lekkerder te maak, moet die reis so nou en dan onderbreek word vir ’n versnapering – en dan moet mens voorbereid wees.

Ná ’n effense struikelblok in die plaaslike bevolking se drang om die pad te vat, blyk dit dat Suid-Afrikaners weer aan die reis en rondry is – tans nog in motors, maar met die huidige petrolprys mag die ossewaens een van die dae weer afgestof word.

Hoe ook al, as daar gereis word, word padkos gemaak. Dis nou vir diegene wat verkies om hul eie spyse vir die lang pad saam te ry in stede van om uitgelewer te word aan sooibrand-ontploffende garage-pasteie en bleek opgewarmde slaptjips. Die ware reisiger ry sy of haar eie selfvoorbereide kos saam. Dis padkos. Dit is deel van onse DNS en hoort verpligtend te wees.

Hier volg ’n paar wenke.

Skotse eiers

6 eiers

400 gram spekstukkies (dis die off-cuts)

½ koppie vars witbroodkrummels

3 eetlepels meel gemeng met 1 eetlepel fyngekapte pietersielie en gegeur met sout en peper

2 eetlepels olie

Plaas die eiers in 'n kastrol met koue water en kook vir vier minute. Haal die eiers uit die kookwater en spoel af onder yswater.

Dop die eiers af.

Meng die spekstukkies (rou) in 'n voedselverwerker tot fyn of kap met 'n baie skerp mes. Meng dit met die broodkrummels, maar hou so twee eetlepels van die krummels eenkant.

Rol nou die gekookte eiers in die gegeurde meel. Verdeel dan die spekmengsel in ses hopies en druk plat. Vou die spekmantel rondom die eier en druk versigtig. Dit is maklik om te doen as jy jou hande effens klam hou met kraanwater.

Rol dan die eier in die orige broodkrummels en braai in 'n medium-warm pan met die olie totdat die spek-eier oral bruin is. Laat afkoel en rol dan elke eier in sy eie kleefplastiek. Plaas in yskas tot dit tyd is om te ry.

Biltong-kasies

1 ½ koppie fyn gerasperde harde kaas. Vir maksimum geur en tekstuur, probeer gerus 'n mengsel van parmesaan (nie daai klaar gerasperde saagsels in die pakkies nie!), gruyere en cheddar

½ koppie yskoue botter

1 koppie koekmeel

Knippie sout

1 teelepel mosterdpoeier

Kwart teelepel warm paprika of 'n knippie gedroogde rissie

1 eiergeel

Rasper die botter in by die meel en voeg die droë speserye by. Roer die eiergeel by en laastens die kaas. Rol die deeg in 'n bal en verdeel in twee. Bedek met plastiek en plaas in yskas vir 'n halfuur of tot koud.

Rol dan in twee lang worse en sny in wieletjies.

Bak in warm oond vir 10 minute, maar hou dop, dit brand vinnig! (Sny net eers een stukkie en bak dit sodat jy kan sien hoe groot die koekie word.) Die kaas se vetinhoud verskil van soort tot soort en indien dit vir jou te vetterig lyk wanneer gebak word, voeg klein bietjie meel by.

Vir die biltongvulsel:

Meng 75 gram fyngestampte biltong met een houertjie geroomde maaskaas (smooth cream cheese).

Smeer die koekies met die biltongsmeer net voor jy in die pad val, anders word hulle sag. Of hou dit sommer in 'n koekblik, maar nie vir langer as 'n week nie. Jy kan die biltongsmeer verfyn met gekapte uielowwe of roketblare, maar dis ook lekker netso.

Heerlikste hoenderboudjies

8 hoenderboudjies, vir 4 mense

2 eetlepels tamatiesous

1 eetlepel sonneblomolie

2 eetlepels Worcestersous

‘n Paar druppels Tabasco

Plaas als in ’n braaipan en sorg dat die hoender bedek is met die sous. Bak teen 180°C vir 30 tot 40 minute tot gaar. Draai die hoender gereeld in die sous om. Laat die hoender in die vet en sous koud word voor dit verpak word vir die tog.

Die pad mag wel lank wees, maar met die regte padkos is hy lekker ook.