Kleiner 

is groter

Die lewe gaan oor baie dinge, en perspektief en skaal maak seker ’n groot deel daarvan uit. Maar vir ’n vierjarige beteken dit nou net mooi niks. Want as jy só klein is en ’n ding langs jou is só groot, dan is hy GROOT ...

Baie keer in mens se lewe gebeur daar ’n ding wat ’n enorme indruk agterlaat. Een so onthou uit my kleintyd was to Ma-hulle alleen wou weggaan en hulle vir ek en my boet by tannie Dot-hulle in Bloemfontein agter gelos het. Die bederfvakansie as sulks was ’n groot ding, maar die hoogtepunt van alles was my eerste keer by die sirkus.

“ Ek dink as jy daai olifant in die middestad gaan sit het, was hy sekerlik hoër as ’n vyfverdiepinggebou. ’n Reus verby. Daai beeld is vas geëts in my brein. ”

Oordaad, sê ek jou. Alles te doene met ’n sirkus is oordaad. Ek kon nie glo hoe groot daai tent was nie; hoe dik die hoektoue en -pale. Hoe hoog die sweefartieste sweef. Hoe groot die vere op hul koppe was en hoe blink hulle kostuums geglinster het nie. En die reuk van sirkus was net so oorweldigend. Stof, dieremis en hooi. Pouse kry jy die grootste spookasem wat bestaan. As jy hom voor jou hou en hap, word jou hele heelal pienk en blou. Tot jou hande en jou tande taai is.

Maar toe loop ons mos nou om die reusetent na die agterkant waar al die dierehokke is. Skielik word dit soortvan donker hier waar ek staan. Die tipe donkerte wanneer ’n groot swart wolk die son verberg. Maar dit is nie ’n wolk nie, besef ek. Want dié wolk het ’n poot so groot soos ... ek weet nie, gróót. Ek kyk na die poot se naels. Wieldoppe, vertel ek jou! Op en op en op kyk ek die poot uit wat ’n skouer word en doer bo is ’n rug en kop. Die slurp wat swaai lyk soos ’n Tarzan-tou. Bo-op die rug sit iemand wat lyk of hy kleiner as ek is, hy is so hoog. Ek dink as jy daai olifant in die middestad gaan sit het, was hy sekerlik hoër as ’n vyfverdiepinggebou. ’n Reus verby. Daai beeld is vas geëts in my brein.

Die volgende jaar Juliemaand is ons saam met Ma-hulle Krugerwildtuin toe. Laatmiddag op pad terug kamp toe, kry ons ’n aansienlike trop olifante. My pa is gaande oor die een bul.

“Kyk net daai tande. Hy is ’n reus!” steun Pa en ek kan nie verstaan waaroor gaan sy opgewondenheid nie. Dié outjie sal loslit onderdeur my sirkusolifant kan loop. Net so.

“Pa, hy’s maar kleinerig,” begin ek.

“Wat?”

“Laas jaar ... saam met tannie Dot-hulle het ek ’n reus gesien. By die sirkus.”

My pa kyk vir my in die kar se truspieël, my ma streel oor my wang en begin saggies sing: “When I was small and Christmas trees were tall ...”

ADDRESS: TOPS at SPAR Gardenia, Bloemfontein

5 Jasmyn Ave. Tel: 051 011 3468

BUSINESS HOURS: TOPS at SPAR trading hours as per government regulations

TOPS at SPAR Customer Care Tel: 086 031 3141

BACK TO TOP