Die warm

witbrood

se sonde

My pa se enigste broer, oom Callie, was ’n mynskagbestuurder in Carletonville in die eertydse Wes-Transvaal. Vandag is my pa, oom Callie en Wes-Transvaal nie meer nie, maar Carletonville wel, alhoewel nou in Noordwes.

Deur Gerrit Rautenbach

Daai ou jare terug het ons so elke nou en dan van Johannesburg af deurgery vir ’n Sondag-noenmaal se groot kuier. Dit was lekker, want daar had ek en my broer twee nefies, Nico en Callie, amper onse ouderdom. Dit was ’n geleentheid vir ’n skaapboud en ’n braaihoender en sewe soorte groente-troospryse, insluitende diepgebraaide ertappels. En slaai. En malvapoeding met roomys. Soos net my neef Callie se ma, tannie Pokkie, kon doen. Maar moenie die witbrood vergeet nie.

Dié spesifieke Sondag wat ek nou so mooi oproep in my langtermyngeheue, het tannie Pokkie vir oom Callie winkel toe gestuur. Hy moes vars tamaties vir die slaai en ’n varsgebakte witbrood loop koop. Niks kom by Rio-kafee se warm Sondag-brood nie. Om in daai skaapvet-se-sousie te doop. So spring al die nefies saam agterin oom Callie se groengrys Holden-stasiewa af kafee toe vir Sondag se warm brood.

Op pad terug van die kafee kon neef Callie homself met moeite in toom hou. Hy het elke kort-kort die warm witbrood in die bruin papiersak opgetel en teen sy wang gedruk. Die bek van die papiersak oopgemaak en die stoomreuk van varsgebakte brood geruik.

Nou is Sondag se noenmaalvoorbereidings in die pylvak. Die hoender is botterlekker, die skaapboud is sappig. Die dik sous wag vir Rio-kafee se Sondag-brood.

Kort voor lank kan hy dit nie meer hou nie. Sy hand sluip by die bek van die papiersak in. Die poort van onheil en al. Binne-in daai sak breek hy die kop van die brood oop soos mens ’n blikkie kos oopmaak en krabbel vir hom ’n hand vol sagte, witwarm broodvleis uit. Soos sy hand uit die sak kom, sien ek die stoomstreep agterna sleep.

Neef Callie druk die wit en warm heilsaamheid in sy mond en maak sy oë toe. Hy kou amper nie; dis asof die witbrood soos spookasem verdamp. Dan glimlag hy, druk weer sy hand in die sak in. En weer. En weer. By die huis aangekom het hy net genoeg tyd om die leë brood se dekseltjie mooi terug te druk.

Nou is Sondag se noenmaalvoorbereidings in die pylvak. Die hoender is botterlekker, die skaapboud is sappig. Die dik sous wag vir Rio-kafee se Sondag-brood. Ons almal gaan sit aan. Oom Callie spreek die seën oor al hierdie heerlike kos en gawes uit. Almal skep op en almal eet smaaklik. Almal hou ’n bietjie dik sous op die bord oor vir daai tussenpose tussen hoofgereg en poeding.

Dan gaan haal tannie Pokkie die bruin papiersak met die warm witbrood in. Sy wonder hoekom hy so effe lig voel, dié sak. Nietemin pak sy die brood op die houtbord uit en tel die broodmes op. Sy sny en voor haar lê net ’n korsiekarkas, soos ’n raam wat sy skildery verloor het. Almal kyk daarna. Tannie Pokkie ken haar kinders en kyk haar seun en my neef Callie stip in die oë.

“Hoekom Callie?” vra sy.

“Maar Ma, mens kan mos nie anders nie ...”

ADDRESS: Tops at Spar, Annanstraat 2, Carletonville

BUSINESS HOURS: Mon-Sat 08:00-20:00 & Sun 09:00-15:30

TOPS at SPAR Customer Care Tel: 086 031 3141

BACK TO TOP