’n Bul van ’n

omelet

Daar is eiergeregte en daar is eiergeregte! Dit is nie so maklik soos mens sal dink nie. Nie net ’n geklits en in ’n warm pan gooi nie. Dis Spaans, en moet met respek aangedurf word.

Ek het al in die lees van artikels deur kosmeesters afgekom op die stelling dat as mens ’n ordentlike omelet kan bak, jy geseën is met die talent om te kan kos maak. Enigiemand wat al die omelet aangepak het, sal weet dat hierdie stelling dalk net waar mag wees.

Met die bereiding van hierdie eiergereg is daar geen ruimte vir aandag-afleibaarheid, die ongekontroleerde toediening van hitte en ’n onnodige gekrap en geroer nie. Om ’n perfek-gaar omelet te bak wat die sagte geur van korrek-gaar eier oordra kort die slag van ’n natuurlike sjef wat kos met respek bejeen.

Maar tog is dit die moeite werd om die omelettegniek so korrek as moontlik te kry. Eiers is een van die hoof kosgeure wat deur die tekstuur van die omelet pragtig oorgedra word. Ek hou egter van my omelet met paar dik geure. Soos in die Spaanse omelet.

Die Spaanse omelet is soos die omelet wat ons ken, net groter en dikker. Jy kan twee Spaanse bulle tot die grond dwing nadat jy een van hierdie menere kafgedraf het. Maar dit stel jou tegniek op die proef.

Vir vier señores en/of senoritas die volgende:

4 eetlepels kookolie, verkieslik olyf

1 medium ui, fyngekap

2 groterige aartappels, geskil en in blokkies gesny

2 huisies knoffel, fyngekap

1 groot rooi soetrissie, in repies gesny

3 gerookte varkworse of chorizos in skywe

Maak jou pan warm, voeg 2 eetlepels olie by en braai die uie, knoffel en aartappel in die pan oor ’n matige hitte. Die aartappel moet gaar word – sowat 8 tot 12 minute. Klits solank die eiers saam in ’n bak. Wanneer die uie en aartappels reg is, haal die goed uit die pan en plaas op kombuispapier sodat die oortollige olie opgeweek kan word. Nou gooi jy hierdie aartappels en uie – sonder die kombuispapier – in die bak met die eiermengsel. Laat staan so vir 15 minute.

Plaas die pan terug op die hitte en maak die ander 2 eetlepels olie daarin warm. Nie rookwarm nie, maar genoeg om te “sisss” as jy ’n druppel water daarop spat. Skink die eier-aartappel-ui-mengsel in die pan. Sodra die omelet begin stol, sit die worsies en soetrissie by. Kook totdat die omelet redelik ferm is – lig die rante van die eier om te loer. Sodra dit opgehou loop het, is jy in besigheid.

Nou vir die geheim!

Jy wil die Spaanse omelet aan sy bokant ook gaar hê. So, kry ’n bord groot genoeg om bo-oor die pan te plaas en die pan te bedek. Gly die omelet uit die pan uit op die bord. Die rou kant is steeds bo.

Bedek die omelet met die pan en hou jou hand onder die bord. Met ’n vinnige gewrigsbeweging en sonder om die pan of bord te los, swaai jy die bord en pan 180 grade om sodat die omelet, met sy rou kant onder, in die pan lê. Sit die pan terug op die hitte. Nog 2, 3 minute se bak en jy sit met ’n dik, ryk omelet wat in skywe gesny word vir bediening.

Olé!

Emile Joubert is a PR practitioner by profession, but a food and wine enthusiast by desire. Check out his blog: winegoggle.co.za

BACK TO TOP